Skip to main content

Italië: Orvieto

Italië: Orvieto

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 25 Junie 2015

Ons het by Orvieto oppad van Venesië na Rome aangedoen. Dis ‘n stad wat al uit Etruskiese tye (voor Romeinse tye) dateer en die ou gedeelte is bo-op ‘n heuwel met kranse regrondom. Ons is met ‘n funicolare boontoe, wat ‘n soort kabelkar op ‘n baie styl spoor is.

My indruk van die ou gedeelte is die van ‘n dorpie met nou klip straatjies, ‘n groot kerk en baie klein winkeltjies. Daar is ‘n hele ondergrondse stad ook, gebou as terugval in tye van aanval. Mens kan ‘n toer van dit neem, maar ek en my suster het daarteen besluit. Nou, natuurlik, is ek spyt ons het nie. Sal maar moet teruggaan ;).

Vir die foto’s het ek weer by die standaard 50mm lens gebly. Mens kom nogal ver daarmee! Die katedraal is daarom ‘n 2-dimensionele panorama, wat Photoshop nogal goed aanmekaar kan sit. Nota aan self: onthou om met die volgende panorama seker te maak jy het die hele ding afgeneem!

En, ja, ek wonder nou nog hoekom daar ‘n standbeeld van ‘n vlieënde koei op die katedraal is…

Italië: Venesië

Italië: Venesië

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Woensdag 24 Junie 2015

Van Verona af is ons na Venesië, waar ons in ‘n hotel op die vasteland geslaap het en die volgende dag na die ou gedeelte op die eilande toe is. Venesië is bekend vir sy kanale, gondola’s, kantwerk, glaswerk en Piazza San Marco, maar as jy dit als gesien het, is daar nog baie ander goed ook.

Ons het vanaf die busstaanplek die ou stad in geloop – want karre word nie toegelaat nie – oor brûe en deur klein pleintjies, en net so af van die groot oopte van Piazza San Marco die dag met ‘n gondolarit begin.

Dit was heerlik ontspannend en ‘n totale ander kant van die ou stad. Waar ons vroeër op die bruggies vir die bote op die kanale staan en kyk het en foto’s geneem het, is daar nou van ons foto’s geneem vanaf die bruggies deur ander toeriste. Die rit was beslis die moeite werd. Een nota om te onthou: ons was vroeg daar, so dit was nognie besig nie en ons rit was langer. Teen die tyd dat ons weer vasgemeer het (so halfuur later) was daar al baie meer mense wat wag in die toue.

Daarvanaf kantwinkel toe: eers ‘n kantmaak demonstrasie, toe ‘n koopsessie. Die handgemaakte kantindustrie word deur die staat gesubsidieer deesdae, so daar was darem ‘n paar goed wat ons kon bekostig, maar dit was nogsteeds uit ‘n moderne, Suid-Afrikaanse, alles-in-fabrieke-gemaak oogpunt, duur. Daar was ook ‘n wye verskeidenheid tipes kant te koop: kloskant, borduurwerk, hekel, tatting en Venesiese naaldkant.

Daarvanaf glaswinkel toe en ook eers ‘n demonstrasie (van glasblaas), toe ‘n koopsessie. Dis nou een plek waar jy baie versigtig met ‘n rugsak deur loop om niks van die rakke en rakke glasgoed af te stamp nie… Duur uit ons oogpunt uit. Baie.

Maar ook ongelooflike werke, onder andere ‘n groot, pragtige pegasus beeld.

Na die glas plek is die groep uitmekaar in alle rigtings in en ek en my suster het die res van die tyd rondgewandel, verdwaal en geskenke en aandenkings gekoop. Baie van die glas goed wat goedkoop beskikbaar is, is nie regte Venesiese glas nie, maar uit China. Ah, wel. Nogsteeds herinneringe.