Skip to main content

Sisilië: Mt Etna

Sisilië: Mt Etna

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Sondag 28 Junie 2015

Ons was vir 4 nagte ingeboek in Hotel Villa Astoria in Taormina (die dorpie op die ooskus van Sisilië) en het drie dagtoere daarvanaf gedoen: Mt Etna, die Eoliese eilande en die Vallei van die Tempels en Villa Romana.

Die Sondag se toer na Mt Etna het by drie plekke aangegaan: die Alcantera Klowe, ‘n dorpie met die naam Randazzo en Mt Etna self.

Vir die wat nie weet nie, Mt Etna is ‘n lewende vulkaan, wat gereëld uitbars in sulke kleiner, stoomaflaat uitbarstings. Dis nou in kontras met ‘n vulkaan soos Vesuvius (verantwoordelik vir die begrawing van Pompeii) wat massiewe, verwoestende uitbarstings net dan en wan het.

Maar vir eers terug by die Alcantera Klowe. Drie lawastrome en ‘n rivier het daar bymekaargekom, wat die lawa vinig laat stol het en dit het sulke hoekige, kristalagtige strukture gemaak. Deesdae is dit deel van ‘n natuurreservaat en mens kan lekker daar stap.

Die volgende stop, Randazzo, was ‘n klein dorpie aan die voet van Mt Etna. Een van die besienswaardighede is ‘n kerk van swart basalt gebou, maar ons was baie moeg vir kerke kyk teen die tyd, so het net ‘n paar foto’s geneem en verder gegaan. Die toergroep het by ‘n deli kaas, wyn, vleise en lekkergoed geproe en gekoop. Daar was ‘n Sondag mark ook aan die gang, waar ek en my suster vrugte en tamaties gekoop het.

Toe is ons Mt Etna uit. Switch backs met ‘n bus deur woude tot by ‘n basisstasie op 2000m en vandaar met (ek dink) ‘n unimog verder. Mens kan die stuk tot bo stap, maar ek was baie dankbaar vir die unimog! In Randazzo was dit nog 32°C, maar by die basisstasie was dit al 22°C. Ongelukkig weet ek nie wat die temperatuur bo was nie, net dat dit heelwat kouer was met sneeu hier en daar op die grond.

Die hele berg van 2000m af op bestaan uit swart, gestolde lawa. Hier en daar was daar ronde groen bossies, soos borrels groen muf op die lawaklip, maar dis al.

Die berg het die vorige jaar (!) laas uitgebars. As jy jou hand in ‘n holte steek, dan voel jy ook die hitte. Dis deesdae verbode om tot op die hoogste piek te gaan, maar ons was op ‘n piek langsaan, tot die wolke ingekom het, toe is ons weer af.

Italië: Reggio di Calabria

Italië: Reggio di Calabria

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Saterdag 27 Junie 2015

Vrydag nag het ons ‘n oornagtrein van Rome af na Reggio di Calabria gevat. Ons kon ‘n trein tot in Sisilië gevat het – die trein gaan letterlik met ‘n veerboot oor die Straat van Messina! – maar my suster wou twee antieke Griekse bronsstandbeelde in Reggio sien: die Riace bronsstandbeelde. Hulle is die moeite werd om te gaan kyk en bleikbaar ‘n mylpaal in die ontwikkeling van kuns: realisties, maar ook effens veridealiseerd. Die detail is ongelooflik en die gietproses sal nie nou oorgedoen kon word nie.

Omdat dit Saterdag was en die veerbote anders loop, moes ons van Reggio af teruggaan na Villa San Giovanni om ‘n boot te kry na Messina. In Messina het ons ‘n trein gevat na Taormina, ‘n dorpie op die ooskus van Sisilië.

Die kus daar het ‘n smal strook teen die see en dan ‘n krans op na die res van die dorp bo, baie soos dit by Sorrento was. Ons het ‘n bus gekry van Taormina-stasie boontoe en die geluk getref dat die hotel wat ons oor die internet geboek het, reg oorkant die busterminaal is.

Dit was ‘n lang dag. Ek sal eerder nie uitwei oor tasse sleep van treinstasies na museums, van museums na hawens en van hawens na treinstasies toe nie… In die tweede helfte van ‘n reis wil mens seker maar gewoonlik geld spaar waar jy kan, om seker te maak jy kan doen wat jy eintlik wil.

 

Italië: Orvieto

Italië: Orvieto

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 25 Junie 2015

Ons het by Orvieto oppad van Venesië na Rome aangedoen. Dis ‘n stad wat al uit Etruskiese tye (voor Romeinse tye) dateer en die ou gedeelte is bo-op ‘n heuwel met kranse regrondom. Ons is met ‘n funicolare boontoe, wat ‘n soort kabelkar op ‘n baie styl spoor is.

My indruk van die ou gedeelte is die van ‘n dorpie met nou klip straatjies, ‘n groot kerk en baie klein winkeltjies. Daar is ‘n hele ondergrondse stad ook, gebou as terugval in tye van aanval. Mens kan ‘n toer van dit neem, maar ek en my suster het daarteen besluit. Nou, natuurlik, is ek spyt ons het nie. Sal maar moet teruggaan ;).

Vir die foto’s het ek weer by die standaard 50mm lens gebly. Mens kom nogal ver daarmee! Die katedraal is daarom ‘n 2-dimensionele panorama, wat Photoshop nogal goed aanmekaar kan sit. Nota aan self: onthou om met die volgende panorama seker te maak jy het die hele ding afgeneem!

En, ja, ek wonder nou nog hoekom daar ‘n standbeeld van ‘n vlieënde koei op die katedraal is…

Italië: Venesië

Italië: Venesië

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Woensdag 24 Junie 2015

Van Verona af is ons na Venesië, waar ons in ‘n hotel op die vasteland geslaap het en die volgende dag na die ou gedeelte op die eilande toe is. Venesië is bekend vir sy kanale, gondola’s, kantwerk, glaswerk en Piazza San Marco, maar as jy dit als gesien het, is daar nog baie ander goed ook.

Ons het vanaf die busstaanplek die ou stad in geloop – want karre word nie toegelaat nie – oor brûe en deur klein pleintjies, en net so af van die groot oopte van Piazza San Marco die dag met ‘n gondolarit begin.

Dit was heerlik ontspannend en ‘n totale ander kant van die ou stad. Waar ons vroeër op die bruggies vir die bote op die kanale staan en kyk het en foto’s geneem het, is daar nou van ons foto’s geneem vanaf die bruggies deur ander toeriste. Die rit was beslis die moeite werd. Een nota om te onthou: ons was vroeg daar, so dit was nognie besig nie en ons rit was langer. Teen die tyd dat ons weer vasgemeer het (so halfuur later) was daar al baie meer mense wat wag in die toue.

Daarvanaf kantwinkel toe: eers ‘n kantmaak demonstrasie, toe ‘n koopsessie. Die handgemaakte kantindustrie word deur die staat gesubsidieer deesdae, so daar was darem ‘n paar goed wat ons kon bekostig, maar dit was nogsteeds uit ‘n moderne, Suid-Afrikaanse, alles-in-fabrieke-gemaak oogpunt, duur. Daar was ook ‘n wye verskeidenheid tipes kant te koop: kloskant, borduurwerk, hekel, tatting en Venesiese naaldkant.

Daarvanaf glaswinkel toe en ook eers ‘n demonstrasie (van glasblaas), toe ‘n koopsessie. Dis nou een plek waar jy baie versigtig met ‘n rugsak deur loop om niks van die rakke en rakke glasgoed af te stamp nie… Duur uit ons oogpunt uit. Baie.

Maar ook ongelooflike werke, onder andere ‘n groot, pragtige pegasus beeld.

Na die glas plek is die groep uitmekaar in alle rigtings in en ek en my suster het die res van die tyd rondgewandel, verdwaal en geskenke en aandenkings gekoop. Baie van die glas goed wat goedkoop beskikbaar is, is nie regte Venesiese glas nie, maar uit China. Ah, wel. Nogsteeds herinneringe.

Italië: Siena en ‘n wynplaas

Italië: Siena en ‘n wynplaas

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Vrydag 19 Junie 2015

Van Assisi af is ons na Siena, ‘n stad in Toskane, baie bekend vir St Catherine van Siena en ‘n perderesies, die Palio. Siena lyk na ‘n middeleuse dorp, al is dit al voor Christus begin, met nou straatjies en klipgeboue.

Die Palio word tweekeer ‘n jaar om die hoofplein, die Piazza del Campo, gehou. Die plein is in die vorm van ‘n skulp, wat die resies ‘n paar skerp draaie gee. Grond word op die plaveisel gegooi, die perde word bloots gery en dis die perd wat wen, al galop hy verby die eindstreep sonder sy jokkie…

Van Siena af, is ons na Villa Buonasera, ‘n wynplaas naby die stad waar ons van wynmaak geleer het, die wyne geproe het en middagete geëet het. Wie sal nou meer wil hê as ‘n wynplaas in Toskane?

Van daar af is ons na Florence waar ons die aand geslaap het, maar meer daaroor in die volgende blog.

Italië: Assisi

Italië: Assisi

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015).. Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 18 Junie 2015

Van Sorrento af, is ons na Assisi. Die dorp is bekend as die geboorteplek van St Francis en die Katolieke orde, die Fransiskane, wat hy begin het. St Francis het ‘n omwenteling in die Christendom in Europa gebring in die vroeë 1200’s en daar is ‘n Basilika in Assisi vir hom opgerig na sy dood.

Al die foto’s wat ek in die dorp self geneem het, is met ‘n 50mm F1.4 vaste lens geneem. Net die nagfoto is met ‘n zoom-lens (28-135mm) op 135mm geneem, want dit was geneem van waar ons gebly het die aand, onder in die vallei. Omdat ek geweet het ek wil nagfoto’s neem, het ek ‘n klein tafeldriepoot en ‘n sneller saamgevat Italë toe. Die nagfoto van Assisi was op F13 om dit skerp te hou en die sluiter was 30s oop.

Italië: Pompeii, Sorrento en Capri

Italië: Pompeii, Sorrento en Capri

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Dinsdag 16 en Woensdag 17 Junie 2015

Van Rome af is ons na Pompeii, naby Napels, waar ons ‘n toer gedoen het van die ruïnes. Behalwe vir die klipstrukture wat die uitbarsting van Vesuvius in 79 nC oorleef het is daar heelwat artifakte gevind en selfs fresco’s teen mure het behoue gebly. Maar dit is die menslike oorskot wat eintlik Pompeii so bekend gemaak het. Die plek is met ‘n baie dik laag as bedek a.g.v. die uitbarsting en dit het alles bewaar. Toe dit opgegrawe is, was daar holtes rondom die beendere wat in die as vasgevang was, wat toe met gips gevul is en die  vorme van die oorspronklike liggame wys.

Na Pompeii is ons na Sorrento, waar ons geslaap het en toe die volgende dag na die eiland van Capri toe is met ‘n boot.

Italië: Rome 1

Italië: Rome 1

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Maandag 15 Junie 2015

Natuurlik het ons in Rome begin. Oud soos die berge, laag op laag op laag se geskiedenis. Standbeelde, piazza’s, ou Romeinse oorblyfsels en baie toeriste.

Eerste was die Vatikaan museum: derde grootste museum ter wêreld met kunsskatte vir ‘n vale en heeltemal te veel mense. Die grootste uitdaging hier was om sonder ‘n flash af te neem, sodat die kleure van die skilderye, ens. vir die nageslagte behoue kan bly.

Daarna was dit die Colosseum en forum’s. Omtrent alles hier was met ‘n wyehoek lens afgeneem. Die foto van die Colosseum was op 10mm.

Les nr 1: jou voete gaan seer wees…