Skip to main content

Sisilië: Mt Etna

Sisilië: Mt Etna

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Sondag 28 Junie 2015

Ons was vir 4 nagte ingeboek in Hotel Villa Astoria in Taormina (die dorpie op die ooskus van Sisilië) en het drie dagtoere daarvanaf gedoen: Mt Etna, die Eoliese eilande en die Vallei van die Tempels en Villa Romana.

Die Sondag se toer na Mt Etna het by drie plekke aangegaan: die Alcantera Klowe, ‘n dorpie met die naam Randazzo en Mt Etna self.

Vir die wat nie weet nie, Mt Etna is ‘n lewende vulkaan, wat gereëld uitbars in sulke kleiner, stoomaflaat uitbarstings. Dis nou in kontras met ‘n vulkaan soos Vesuvius (verantwoordelik vir die begrawing van Pompeii) wat massiewe, verwoestende uitbarstings net dan en wan het.

Maar vir eers terug by die Alcantera Klowe. Drie lawastrome en ‘n rivier het daar bymekaargekom, wat die lawa vinig laat stol het en dit het sulke hoekige, kristalagtige strukture gemaak. Deesdae is dit deel van ‘n natuurreservaat en mens kan lekker daar stap.

Die volgende stop, Randazzo, was ‘n klein dorpie aan die voet van Mt Etna. Een van die besienswaardighede is ‘n kerk van swart basalt gebou, maar ons was baie moeg vir kerke kyk teen die tyd, so het net ‘n paar foto’s geneem en verder gegaan. Die toergroep het by ‘n deli kaas, wyn, vleise en lekkergoed geproe en gekoop. Daar was ‘n Sondag mark ook aan die gang, waar ek en my suster vrugte en tamaties gekoop het.

Toe is ons Mt Etna uit. Switch backs met ‘n bus deur woude tot by ‘n basisstasie op 2000m en vandaar met (ek dink) ‘n unimog verder. Mens kan die stuk tot bo stap, maar ek was baie dankbaar vir die unimog! In Randazzo was dit nog 32°C, maar by die basisstasie was dit al 22°C. Ongelukkig weet ek nie wat die temperatuur bo was nie, net dat dit heelwat kouer was met sneeu hier en daar op die grond.

Die hele berg van 2000m af op bestaan uit swart, gestolde lawa. Hier en daar was daar ronde groen bossies, soos borrels groen muf op die lawaklip, maar dis al.

Die berg het die vorige jaar (!) laas uitgebars. As jy jou hand in ‘n holte steek, dan voel jy ook die hitte. Dis deesdae verbode om tot op die hoogste piek te gaan, maar ons was op ‘n piek langsaan, tot die wolke ingekom het, toe is ons weer af.

Italië: Assisi

Italië: Assisi

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015).. Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 18 Junie 2015

Van Sorrento af, is ons na Assisi. Die dorp is bekend as die geboorteplek van St Francis en die Katolieke orde, die Fransiskane, wat hy begin het. St Francis het ‘n omwenteling in die Christendom in Europa gebring in die vroeë 1200’s en daar is ‘n Basilika in Assisi vir hom opgerig na sy dood.

Al die foto’s wat ek in die dorp self geneem het, is met ‘n 50mm F1.4 vaste lens geneem. Net die nagfoto is met ‘n zoom-lens (28-135mm) op 135mm geneem, want dit was geneem van waar ons gebly het die aand, onder in die vallei. Omdat ek geweet het ek wil nagfoto’s neem, het ek ‘n klein tafeldriepoot en ‘n sneller saamgevat Italë toe. Die nagfoto van Assisi was op F13 om dit skerp te hou en die sluiter was 30s oop.

Italië: Pompeii, Sorrento en Capri

Italië: Pompeii, Sorrento en Capri

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Dinsdag 16 en Woensdag 17 Junie 2015

Van Rome af is ons na Pompeii, naby Napels, waar ons ‘n toer gedoen het van die ruïnes. Behalwe vir die klipstrukture wat die uitbarsting van Vesuvius in 79 nC oorleef het is daar heelwat artifakte gevind en selfs fresco’s teen mure het behoue gebly. Maar dit is die menslike oorskot wat eintlik Pompeii so bekend gemaak het. Die plek is met ‘n baie dik laag as bedek a.g.v. die uitbarsting en dit het alles bewaar. Toe dit opgegrawe is, was daar holtes rondom die beendere wat in die as vasgevang was, wat toe met gips gevul is en die  vorme van die oorspronklike liggame wys.

Na Pompeii is ons na Sorrento, waar ons geslaap het en toe die volgende dag na die eiland van Capri toe is met ‘n boot.

Italië: Rome 1

Italië: Rome 1

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Maandag 15 Junie 2015

Natuurlik het ons in Rome begin. Oud soos die berge, laag op laag op laag se geskiedenis. Standbeelde, piazza’s, ou Romeinse oorblyfsels en baie toeriste.

Eerste was die Vatikaan museum: derde grootste museum ter wêreld met kunsskatte vir ‘n vale en heeltemal te veel mense. Die grootste uitdaging hier was om sonder ‘n flash af te neem, sodat die kleure van die skilderye, ens. vir die nageslagte behoue kan bly.

Daarna was dit die Colosseum en forum’s. Omtrent alles hier was met ‘n wyehoek lens afgeneem. Die foto van die Colosseum was op 10mm.

Les nr 1: jou voete gaan seer wees…

Chiaroscuro stillewes

Chiaroscuro stillewes

So ruk terug het my suster gevra dat ek ‘n paar eenvoudige stillewes afneem in ‘n chiaroscuro styl, vir haar om te skilder.

Daar is ‘n hele paar tutoriale op die net oor hoe om foto’s te neem vir skilder. Die een wat ek na gekyk het is hierdie een. Behalwe vir die komposisie tips is die hoof ding wat ek daaruit geleer het om ‘n vlakker fokusdiepte te gebruik, omdat dit is hoe die oog sien en wat sin maak in ‘n skildery.

Vir die chiaroscuro het ek my flash baie na die kant gesit en probeer om so die agtergrond in skaduwee to hou, terwyl die voorwerp verlig is. Dit help ook om soveel moontlik afstand tussend die agtergrond en die voorgrond te hê. Een flash was oor die algemeen genoeg, want mens soek ook die skaduwees om diepte aan die stillewe te gee.

Stillewe - Antieke groen glasbeker 1
Aperture: 14 Camera: Canon EOS 7D Iso: 100
« 1 van 6 »

Een ander ding om in gedagte te hou: met helder kleure vir ‘n agtergrond, soos die rooi, is jy geneig om daardie kleur ook op die voorwerp te kry…

‘n Blouaap foto

‘n Blouaap foto

Partykeer is mens net gelukkig, selfs met die verkeerde verstellings op jou kamera. So… 1/25 van ‘n sekonde, met ‘n 135mm lens is heeltemal te stadig om nie die kamera se beweging in jou hande op te tel nie. Die duimreël is mos ten minste 1/(die lengte van die lens).

Maar, as ‘n blouaap ma met haar kleintjie onder die maag voor jou verby hardloop, selfs op die grasperke van Sun City, is die instink nogsteeds om saam met hulle te draai en ‘n foto te neem. En dalk is dit die moeite werd:

Blou ape aan die beweeg
Aperture: 5.6 Camera: Canon EOS 7D Iso: 100