Fokuskwaliteit en F-stop

Enige fotograaf wat nie meer ‘n beginner is nie sal vir jou kan sê dat die fokusdiepte in ‘n foto verskil by verskillende F-stoppe. Hoe kleiner die F-stop, hoe minder is in fokus en hoe groter die F-stop, hoe meer is in fokus…

Maar, en dit is ‘n groot maar, wat ek nie geweet het nie is dat die F-stop ook beïnvloed hoe skerp die fokus is. Nou die dag toe ek op 100% vergroting na ‘n foto van my kyk wat met ‘n wydoop 28-135mm Canon zoom-lens (F3.5 by 28mm en 1/40s) geneem is, kon ek nie een plek in die foto kry wat heeltemal skerp is nie!

Bygesê, dit is nie die skerpste lens in die wêreld nie, maar iets moet tog in fokus wees, dan nie? Of is dit net ‘n baie swakker lens as wat ek gedink het?

Toe vra ek maar iemand wat heelwat meer van lense af weet as ek en sy antwoord was dat ‘n lens op sy skerpste is in die middel van sy F-stop bereik. Hoe nader aan die punte dit is (d.i. wyd oop of speldpuntklein diafragma), hoe “sagter” is die fokus.

Om dit te bewys het ek ‘n klomp keer dieselfde plek afgeneem met die 28-135mm lens teen verskillende F-stoppe. Onder is die resultate.  Die fokus was elke keer in die middel van die foto, op die area met ‘n rooi sirkel om, maar soos die uittreksels van die verskillende foto’s wys, is “in fokus” nie dieselfde as “skerp” nie.

FStop_vergelyk_28_135mm