Skip to main content

Italië: Reggio di Calabria

Italië: Reggio di Calabria

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Saterdag 27 Junie 2015

Vrydag nag het ons ‘n oornagtrein van Rome af na Reggio di Calabria gevat. Ons kon ‘n trein tot in Sisilië gevat het – die trein gaan letterlik met ‘n veerboot oor die Straat van Messina! – maar my suster wou twee antieke Griekse bronsstandbeelde in Reggio sien: die Riace bronsstandbeelde. Hulle is die moeite werd om te gaan kyk en bleikbaar ‘n mylpaal in die ontwikkeling van kuns: realisties, maar ook effens veridealiseerd. Die detail is ongelooflik en die gietproses sal nie nou oorgedoen kon word nie.

Omdat dit Saterdag was en die veerbote anders loop, moes ons van Reggio af teruggaan na Villa San Giovanni om ‘n boot te kry na Messina. In Messina het ons ‘n trein gevat na Taormina, ‘n dorpie op die ooskus van Sisilië.

Die kus daar het ‘n smal strook teen die see en dan ‘n krans op na die res van die dorp bo, baie soos dit by Sorrento was. Ons het ‘n bus gekry van Taormina-stasie boontoe en die geluk getref dat die hotel wat ons oor die internet geboek het, reg oorkant die busterminaal is.

Dit was ‘n lang dag. Ek sal eerder nie uitwei oor tasse sleep van treinstasies na museums, van museums na hawens en van hawens na treinstasies toe nie… In die tweede helfte van ‘n reis wil mens seker maar gewoonlik geld spaar waar jy kan, om seker te maak jy kan doen wat jy eintlik wil.

 

Italië: Orvieto

Italië: Orvieto

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 25 Junie 2015

Ons het by Orvieto oppad van Venesië na Rome aangedoen. Dis ‘n stad wat al uit Etruskiese tye (voor Romeinse tye) dateer en die ou gedeelte is bo-op ‘n heuwel met kranse regrondom. Ons is met ‘n funicolare boontoe, wat ‘n soort kabelkar op ‘n baie styl spoor is.

My indruk van die ou gedeelte is die van ‘n dorpie met nou klip straatjies, ‘n groot kerk en baie klein winkeltjies. Daar is ‘n hele ondergrondse stad ook, gebou as terugval in tye van aanval. Mens kan ‘n toer van dit neem, maar ek en my suster het daarteen besluit. Nou, natuurlik, is ek spyt ons het nie. Sal maar moet teruggaan ;).

Vir die foto’s het ek weer by die standaard 50mm lens gebly. Mens kom nogal ver daarmee! Die katedraal is daarom ‘n 2-dimensionele panorama, wat Photoshop nogal goed aanmekaar kan sit. Nota aan self: onthou om met die volgende panorama seker te maak jy het die hele ding afgeneem!

En, ja, ek wonder nou nog hoekom daar ‘n standbeeld van ‘n vlieënde koei op die katedraal is…

Italië: Florence

Italië: Florence

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Saterdag 20 Junie 2015

Florence, stad van kunskatte en baie seer voete. Die laaste is nou hoe ons ‘n groot deel van die dag gevoel het: soek heeltyd plek om te sit, want ons voete was net te seer. Gladnie gewoond aan soveel stap nie.

Maar verder is dit ‘n ongelooflike mooi stad, met die mooiste kuns, soveel so dat dit later oorweldigend is en dan het jy nognie ‘n fraksie van alles gesien nie. As ek reg onthou wat ons gids vir Florence gesê het, is omtrent ‘n derde van die wêreld se kunskatte in Florence, baie van dit versamel deur die De Medici’s in die middeleeue.

Beginnende by die een kopie van Michelangelo se Dawid op die Piazza della Signoria, is ons op ‘n toer te voet deur die historiese gedeelte gevat, toe het die groep opgebreek en elkeen gaan kyk na wat hulle graag wil.

Die oorspronklike Dawid is nou in die Accademia gallery – wat blykbaar meer op beeldhouwerk gefokus is – maar ek en my suster het eerder na die ander groot gallery gaan kyk: die Uffizi. Dit is meer op skilderye gefokus, maar het ook heelwat beeldhouwerk.

Die ander kopie van die Dawid-beeld, in brons, is op die Michelangelo plein, aan die anderkant van die rivier van meeste van wat ons gekyk het en heelwat hoër sodat mens ‘n mooi uitsig oor die stad kry.