Skip to main content

Sisilië: Mt Etna

Sisilië: Mt Etna

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Sondag 28 Junie 2015

Ons was vir 4 nagte ingeboek in Hotel Villa Astoria in Taormina (die dorpie op die ooskus van Sisilië) en het drie dagtoere daarvanaf gedoen: Mt Etna, die Eoliese eilande en die Vallei van die Tempels en Villa Romana.

Die Sondag se toer na Mt Etna het by drie plekke aangegaan: die Alcantera Klowe, ‘n dorpie met die naam Randazzo en Mt Etna self.

Vir die wat nie weet nie, Mt Etna is ‘n lewende vulkaan, wat gereëld uitbars in sulke kleiner, stoomaflaat uitbarstings. Dis nou in kontras met ‘n vulkaan soos Vesuvius (verantwoordelik vir die begrawing van Pompeii) wat massiewe, verwoestende uitbarstings net dan en wan het.

Maar vir eers terug by die Alcantera Klowe. Drie lawastrome en ‘n rivier het daar bymekaargekom, wat die lawa vinig laat stol het en dit het sulke hoekige, kristalagtige strukture gemaak. Deesdae is dit deel van ‘n natuurreservaat en mens kan lekker daar stap.

Die volgende stop, Randazzo, was ‘n klein dorpie aan die voet van Mt Etna. Een van die besienswaardighede is ‘n kerk van swart basalt gebou, maar ons was baie moeg vir kerke kyk teen die tyd, so het net ‘n paar foto’s geneem en verder gegaan. Die toergroep het by ‘n deli kaas, wyn, vleise en lekkergoed geproe en gekoop. Daar was ‘n Sondag mark ook aan die gang, waar ek en my suster vrugte en tamaties gekoop het.

Toe is ons Mt Etna uit. Switch backs met ‘n bus deur woude tot by ‘n basisstasie op 2000m en vandaar met (ek dink) ‘n unimog verder. Mens kan die stuk tot bo stap, maar ek was baie dankbaar vir die unimog! In Randazzo was dit nog 32°C, maar by die basisstasie was dit al 22°C. Ongelukkig weet ek nie wat die temperatuur bo was nie, net dat dit heelwat kouer was met sneeu hier en daar op die grond.

Die hele berg van 2000m af op bestaan uit swart, gestolde lawa. Hier en daar was daar ronde groen bossies, soos borrels groen muf op die lawaklip, maar dis al.

Die berg het die vorige jaar (!) laas uitgebars. As jy jou hand in ‘n holte steek, dan voel jy ook die hitte. Dis deesdae verbode om tot op die hoogste piek te gaan, maar ons was op ‘n piek langsaan, tot die wolke ingekom het, toe is ons weer af.

Italië: Reggio di Calabria

Italië: Reggio di Calabria

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Saterdag 27 Junie 2015

Vrydag nag het ons ‘n oornagtrein van Rome af na Reggio di Calabria gevat. Ons kon ‘n trein tot in Sisilië gevat het – die trein gaan letterlik met ‘n veerboot oor die Straat van Messina! – maar my suster wou twee antieke Griekse bronsstandbeelde in Reggio sien: die Riace bronsstandbeelde. Hulle is die moeite werd om te gaan kyk en bleikbaar ‘n mylpaal in die ontwikkeling van kuns: realisties, maar ook effens veridealiseerd. Die detail is ongelooflik en die gietproses sal nie nou oorgedoen kon word nie.

Omdat dit Saterdag was en die veerbote anders loop, moes ons van Reggio af teruggaan na Villa San Giovanni om ‘n boot te kry na Messina. In Messina het ons ‘n trein gevat na Taormina, ‘n dorpie op die ooskus van Sisilië.

Die kus daar het ‘n smal strook teen die see en dan ‘n krans op na die res van die dorp bo, baie soos dit by Sorrento was. Ons het ‘n bus gekry van Taormina-stasie boontoe en die geluk getref dat die hotel wat ons oor die internet geboek het, reg oorkant die busterminaal is.

Dit was ‘n lang dag. Ek sal eerder nie uitwei oor tasse sleep van treinstasies na museums, van museums na hawens en van hawens na treinstasies toe nie… In die tweede helfte van ‘n reis wil mens seker maar gewoonlik geld spaar waar jy kan, om seker te maak jy kan doen wat jy eintlik wil.

 

Italië: Rome 2

Italië: Rome 2

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Vrydag 26 Junie 2015

Van Orvieto af is ons terug Rome toe en het die aand vir oulaas saam met die res van die toergroep gaan uiteet.

Die Vrydag het ek en my suster saam met ‘n paar van die ander wat nog oor was van die toergroep goed in Rome gaan kyk wat ons die eerste keer nie het nie: die Spaanse trappe, die Trevi-fontein (besig om herstel te word), Piazza Nevona en die Pantheon.

Daardie dag was daar nog ‘n komplikasie: die vervoerstelsel van Rome het ‘n staking gehad. Die moltreine om van ons hotel na enige plek anders in die stad te kom het net tot 8:30vm geloop en toe weer die middag 17:00 tot 20:00.

Maar ons het darem heelwat gesien en toe vir die res by die Colosseum totsiens gesê, omdat ons klaar daarbinne was. Dis altyd hartseer om afskeid te neem en op jou eie verder te gaan.

Ons wou nog ‘n paar ander goed sien, so ons is terug verby die Forum na die Piazza Venezia en om die Monument vir Victor Emmanuel II om na ‘n woonstelblok uit Romeinse tye te kyk. Dit is ‘n baksteengebou, met boë en donker opening na binne op die verskillende vlakke. Ons het dit in ‘n BBC dokumentêr – aangebied deur Mary Beard – gesien.

Daarvanaf is ons te voet na die Piazza Barberini en die klooster van die Cappucini monnikke om hulle katakombes te sien. Nee, dit is nie wat ek verwag het nie en, nee, ons kon nie foto’s neem nie en, nee, ek is nie ‘n groot aanhanger van kunswerke uit menslike beendere nie… Nie dat dit nie met respek en oorleg gedoen is nie, maar nie vir my nie.

Toe het ons, ons omswerwinge hervat terug verby die Trevi-fontein en na Marcus Aurelius se kolom gaan kyk. Dit het ook ‘n verhaal uitgekerf in ‘n spiraal om die kolom soos Trajan se kolom, maar is later opgerig.

Met die vervoerstaking is ons verder te voet terug na die hotel, verby Castel Sant’Angelo en die Vatikaan. Toe kon ons darem weer ‘n moltrein kry en is met bagasie en al na Roma-Tiburtina stasie om ‘n oornagtrein 11:00 die aand na Reggio di Calabria te kry.

Italië: Orvieto

Italië: Orvieto

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Donderdag 25 Junie 2015

Ons het by Orvieto oppad van Venesië na Rome aangedoen. Dis ‘n stad wat al uit Etruskiese tye (voor Romeinse tye) dateer en die ou gedeelte is bo-op ‘n heuwel met kranse regrondom. Ons is met ‘n funicolare boontoe, wat ‘n soort kabelkar op ‘n baie styl spoor is.

My indruk van die ou gedeelte is die van ‘n dorpie met nou klip straatjies, ‘n groot kerk en baie klein winkeltjies. Daar is ‘n hele ondergrondse stad ook, gebou as terugval in tye van aanval. Mens kan ‘n toer van dit neem, maar ek en my suster het daarteen besluit. Nou, natuurlik, is ek spyt ons het nie. Sal maar moet teruggaan ;).

Vir die foto’s het ek weer by die standaard 50mm lens gebly. Mens kom nogal ver daarmee! Die katedraal is daarom ‘n 2-dimensionele panorama, wat Photoshop nogal goed aanmekaar kan sit. Nota aan self: onthou om met die volgende panorama seker te maak jy het die hele ding afgeneem!

En, ja, ek wonder nou nog hoekom daar ‘n standbeeld van ‘n vlieënde koei op die katedraal is…

Italië: Venesië

Italië: Venesië

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Woensdag 24 Junie 2015

Van Verona af is ons na Venesië, waar ons in ‘n hotel op die vasteland geslaap het en die volgende dag na die ou gedeelte op die eilande toe is. Venesië is bekend vir sy kanale, gondola’s, kantwerk, glaswerk en Piazza San Marco, maar as jy dit als gesien het, is daar nog baie ander goed ook.

Ons het vanaf die busstaanplek die ou stad in geloop – want karre word nie toegelaat nie – oor brûe en deur klein pleintjies, en net so af van die groot oopte van Piazza San Marco die dag met ‘n gondolarit begin.

Dit was heerlik ontspannend en ‘n totale ander kant van die ou stad. Waar ons vroeër op die bruggies vir die bote op die kanale staan en kyk het en foto’s geneem het, is daar nou van ons foto’s geneem vanaf die bruggies deur ander toeriste. Die rit was beslis die moeite werd. Een nota om te onthou: ons was vroeg daar, so dit was nognie besig nie en ons rit was langer. Teen die tyd dat ons weer vasgemeer het (so halfuur later) was daar al baie meer mense wat wag in die toue.

Daarvanaf kantwinkel toe: eers ‘n kantmaak demonstrasie, toe ‘n koopsessie. Die handgemaakte kantindustrie word deur die staat gesubsidieer deesdae, so daar was darem ‘n paar goed wat ons kon bekostig, maar dit was nogsteeds uit ‘n moderne, Suid-Afrikaanse, alles-in-fabrieke-gemaak oogpunt, duur. Daar was ook ‘n wye verskeidenheid tipes kant te koop: kloskant, borduurwerk, hekel, tatting en Venesiese naaldkant.

Daarvanaf glaswinkel toe en ook eers ‘n demonstrasie (van glasblaas), toe ‘n koopsessie. Dis nou een plek waar jy baie versigtig met ‘n rugsak deur loop om niks van die rakke en rakke glasgoed af te stamp nie… Duur uit ons oogpunt uit. Baie.

Maar ook ongelooflike werke, onder andere ‘n groot, pragtige pegasus beeld.

Na die glas plek is die groep uitmekaar in alle rigtings in en ek en my suster het die res van die tyd rondgewandel, verdwaal en geskenke en aandenkings gekoop. Baie van die glas goed wat goedkoop beskikbaar is, is nie regte Venesiese glas nie, maar uit China. Ah, wel. Nogsteeds herinneringe.

Italië: Garda en Verona

Italië: Garda en Verona

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Dinsdag 23 Junie 2015

Van La Spezia is ons met ons bus na die Gardameer en met ‘n veerboot (bus en al) na Garda, waar ons middagete geëet en die eende gevoer het het:

Die meer is diep (tot 350m) en deur gletsers gevorm.

Vandaar na Verona, die stad waar Romeo en Juliette afspeel en waar Dante opgeëindig het nadat hy uit Florence verban is.

Eerste wat ons na kyk is die Romeinse amfiteater, wat so paar jaar voor die Colosseum gebou is. Waar die Colosseum nog sy dubbelmuur struktuur het, staan net ‘n klein gedeelte van die buitenste muur hier. Hulle was besig om die amfiteater reg te maak vir ‘n operafees en buite het rekwisiete rondgestaan met ‘n Egiptiese tema. Dalk vir Aïda?

Daar is baie van Romeo en Juliette te sien met Juliette se balkon (in 1932 gebou…) en haar standbeeld en dan ook natuurlik al die aandenkings.

Ek en my suster het eintlik net rondgeloop, foto’s geneem en geskenke vir die mense by die huis gesoek.

Italië: La Spezia en Cinque Terre

Italië: La Spezia en Cinque Terre

In Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Maandag 22 Junie 2015

La Spezia is ‘n hawestad op die noord-westelike kus van Italië. Ons het dit meestal as basis gebruik om die Cinque Terre te verken. Die Cinque Terre is vyf (daarom “cinque”) kusdorpies wat baie gewild is onder toeriste en net bereik kan word deur wandelpaaie, treine of bote as gevolg van die steil kus. Ek en my suster het by die treine gebly en bietjie in van die dorpies self gestap, maar dis al. Nogsteeds baie seer voete gehad van al die ongewone stap.

Italië: Lucca en Pisa

Italië: Lucca en Pisa

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Sondag 21 Junie 2015

Lucca is ‘n stad in Toskane waar die historiese middestad al van Romeinse tye dateer, met uitbreidings uit die Middeleeue en Renaissance. Die muur rondom is uit die Renaissance en daarom dik, laer as in die Middeleeue en breed genoeg om op te gaan stap en selfs met ‘n kar te ry. Dis gebou om kanonvuur te keer (van die Florentyne!) eerder as massiewe klippe. Lucca is baie rustig, en blykbaar gewoonlik so, al is dit nie Sondag nie. Hulle ry ook eerder fietse as scooters :).

Van Lucca af is ons na Pisa, wat se hoof – en eintlike enigste, volgens ons toergids – toeriste aantreklikheid die leunende toring op die Piazza del Duomo is. In kontras met die foto’s wat mens gewoonlik sien, staan die toring nie alleen nie, maar is omring met geboue, onder andere die Pisa Katedraal, ‘n doopkapel, begraafplaas en hospitaal. En was daar mense!

Na Pisa, is ons na La Spezia, waar ons die aand geslaap het en daarna die Cinque Terre verken het. Meer daaroor in die volgende blog.

Italië: Florence

Italië: Florence

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Saterdag 20 Junie 2015

Florence, stad van kunskatte en baie seer voete. Die laaste is nou hoe ons ‘n groot deel van die dag gevoel het: soek heeltyd plek om te sit, want ons voete was net te seer. Gladnie gewoond aan soveel stap nie.

Maar verder is dit ‘n ongelooflike mooi stad, met die mooiste kuns, soveel so dat dit later oorweldigend is en dan het jy nognie ‘n fraksie van alles gesien nie. As ek reg onthou wat ons gids vir Florence gesê het, is omtrent ‘n derde van die wêreld se kunskatte in Florence, baie van dit versamel deur die De Medici’s in die middeleeue.

Beginnende by die een kopie van Michelangelo se Dawid op die Piazza della Signoria, is ons op ‘n toer te voet deur die historiese gedeelte gevat, toe het die groep opgebreek en elkeen gaan kyk na wat hulle graag wil.

Die oorspronklike Dawid is nou in die Accademia gallery – wat blykbaar meer op beeldhouwerk gefokus is – maar ek en my suster het eerder na die ander groot gallery gaan kyk: die Uffizi. Dit is meer op skilderye gefokus, maar het ook heelwat beeldhouwerk.

Die ander kopie van die Dawid-beeld, in brons, is op die Michelangelo plein, aan die anderkant van die rivier van meeste van wat ons gekyk het en heelwat hoër sodat mens ‘n mooi uitsig oor die stad kry.

Italië: Siena en ‘n wynplaas

Italië: Siena en ‘n wynplaas

Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.

Vrydag 19 Junie 2015

Van Assisi af is ons na Siena, ‘n stad in Toskane, baie bekend vir St Catherine van Siena en ‘n perderesies, die Palio. Siena lyk na ‘n middeleuse dorp, al is dit al voor Christus begin, met nou straatjies en klipgeboue.

Die Palio word tweekeer ‘n jaar om die hoofplein, die Piazza del Campo, gehou. Die plein is in die vorm van ‘n skulp, wat die resies ‘n paar skerp draaie gee. Grond word op die plaveisel gegooi, die perde word bloots gery en dis die perd wat wen, al galop hy verby die eindstreep sonder sy jokkie…

Van Siena af, is ons na Villa Buonasera, ‘n wynplaas naby die stad waar ons van wynmaak geleer het, die wyne geproe het en middagete geëet het. Wie sal nou meer wil hê as ‘n wynplaas in Toskane?

Van daar af is ons na Florence waar ons die aand geslaap het, maar meer daaroor in die volgende blog.