Junie hierdie jaar het ek en my suster Italië toe gevlieg vir drie weke se vakansie (13 Junie – 4 Julie 2015). Die eerste twee weke daarvan was ons op ‘n toer dwarsdeur die land, die laaste week op ons eie in Sisilië.
Sondag 21 Junie 2015
Lucca is ‘n stad in Toskane waar die historiese middestad al van Romeinse tye dateer, met uitbreidings uit die Middeleeue en Renaissance. Die muur rondom is uit die Renaissance en daarom dik, laer as in die Middeleeue en breed genoeg om op te gaan stap en selfs met ‘n kar te ry. Dis gebou om kanonvuur te keer (van die Florentyne!) eerder as massiewe klippe. Lucca is baie rustig, en blykbaar gewoonlik so, al is dit nie Sondag nie. Hulle ry ook eerder fietse as scooters :).
Van Lucca af is ons na Pisa, wat se hoof – en eintlike enigste, volgens ons toergids – toeriste aantreklikheid die leunende toring op die Piazza del Duomo is. In kontras met die foto’s wat mens gewoonlik sien, staan die toring nie alleen nie, maar is omring met geboue, onder andere die Pisa Katedraal, ‘n doopkapel, begraafplaas en hospitaal. En was daar mense!
Na Pisa, is ons na La Spezia, waar ons die aand geslaap het en daarna die Cinque Terre verken het. Meer daaroor in die volgende blog.